Blog

Advanced
Search

Oorblyfsels van ZAR dinamietfabriek op Leeuwfontein eiendom

Dink net….jy soek ‘n stukkie grond in ‘n landelike omgewing waar jy jou kinders ná aan die aarde kan grootmaak…net om later te besef watter kosbare stuk grond jy éintlik gekoop het…watter interessante verhaal as’t ware daar begrawe lê.

Dít is wat gebeur het met ‘n sakeman wat in die vroeë 2000’s ‘n 21 hektaar plasie in die Leeuwfontein-omgewing gekoop het. Die ligging neffens Kameeldrift, net noord-oos van Pretoria, het die gesin die beste van twee wêrelde gebied – naby die geriewe van ‘n stad, maar tog in die vrye natuur.

Soos wat die kinders groter geword  en die veld saam met die honde begin verken het, het hulle geleer wat die eienaardige uitgrawings, klipmure, tonnels en slote teen die rant af na die rivier se kant  toe, beteken het. Die gerug  dat daar meer as honderd jaar gelede ‘n dinamietfabriek op dié stuk grond was, is toe al die tyd waar.

Bitter min mense weet vandag daarvan, selfs diegene wat in die onmiddellike omgewing woon.  Nadat die omstrede plofstoffabriek te Leeuwfontein in die middel 1890’s gesluit is, is al die toerusting en werkers na die nuwe fabriek by Modderfontein verskuif sodat dit nader aan die Witwatersrand se vinnig groeiende goudmyne kon wees. Die Leeuwfontein fabriek het in vergetelheid geraak…tot tagtig jaar later…

Na die ontdekking van goud in 1886 was die aanvraag na dinamiet groot. President Paul Kruger se Zuid-Afrikaansche Republiek het ‘n alleenreg-konsessie aan ‘n Duitser, Edouard Lippert, toegeken om plofstof in te voer, te vervaardig en te verkoop. Onder die naam Zuid-Afrikaansche Maatskappij voor Ontplofbare Stoffen, het hy in 1887 die sogenaamde dinamietfabriek by Leeuwfontein opgerig en kundige Italianers ingebring om dit te bestuur.

Maar binne enkele jare het die destydse Kamer van Mynwese se aantygings van omkopery en bedrog die ZAR genoop om ondersoek in te stel. Daar is beweer dat dinamiet nie regtig by die Leeuwfontein fabriek vervaardig is nie, maar dat die basiese bestanddele meestal in geprosesseerde vorm vanaf die Nobel Organisasie in Frankryk se myne ingevoer is…dat  dit hier klaarblyklik net herverpak en aan die myne voorsien is teen ‘n onbehoorlike winsgrens.

Só het dit aan die lig gekom dat die dinamietfabriek te Leeuwfontein glo deel was van ‘n internasionale gekonkel. Teen 1892 is Lippert se konsessie gekanselleer en aan ‘n nuwe maatskappy oorgedra wat mettertyd ‘n nuwe dinamietfabriek by Modderfontein opgerig het. Teen 1897 was die bedrywighede by Leeuwfontein verby.

Maar….op die kruin van sy kortstondige bestaan het sowat sestig mense by die dinamietfabriek te Leeuwfontein gewerk, waarvan dertig sogenaamde “cartridge girls” was. Hulle is vanaf Avigliana, Italië – een van verskeie plofstoffabrieke van die Nobel Organisasie wêreldwyd – na Leeuwfontein gebring. Omdat vroue “meer geduldig en meer presies” is, is daar gesê, het hulle die gevaarlike werk gedoen om nitro-gliserien en kieselguhr (klei) in dinamietkerse te vorm (eenvoudig gestel).

Bronne noem dat dit ‘n groot fabriek was met 35 magasyne (stoorkamers) waarin 300 houers dinamiet elk geberg kon word. Ter wille van veiligheid is elke magasyn omring deur hoë, dik grondwalle, sommige met klip uitgevoer. Dit wil ook voorkom asof daar ‘n reusegroot grondwal reg rondom die gevaarlike bergplek was, waar toegang verkry is deur ‘n baksteen-belynde tonnel.

Dít is waarop ‘n hengelaar, Brig Willem Otto, in 1978 toevallig afgekom het toe hy op pad was om by die Roodeplaatdam te gaan visvang…die verweerde oorblyfsels van ‘n eens lewendige klein gemeenskap waar die grootste plofstoffabriek in die Suid-Afrika van daardie jare, bedryf is. Nie eens die destydse grondeienaar of historici was bewus van die ruïnes, of wat dit beteken het nie.  Navorsing daarná het egter die raaisel opgelos.

Nog ‘n paar jaar later het ‘n jong Rudolph van den Berg en vriende ook daar rondgekyk toe hulle daar naby gaan visvang het.  Vandag is dieselfde Rudolph die eienaar van Emacplan Eiendomme, wat spesialiseer in die verkoop van kleinhoewes en plase in die omgewing rondom die Roodeplaatdam, sy grootword-wêreld. Dit is juis Rudolph se herinneringe aan wat hulle daardie dag gesien het, wat hom die skrywer hierdie verhaal laat navors en skryf het.

Foto -Personeel in 1890 by sommige van die magasyne tussen grondwalle by die destydse dinamietfabriek te Leeuwfontein. (Foto: Hilton T)

( Skrywer: Lita Kotzé)

Emacplan | Website by ADSSA | © 2018