Blog

Advanced
Search

Paradys vir natuurliefhebbers

Leeuwfontein Estates – waar die natuur koning kraai! Dít is wat die ontwikkelaars oor gedroom het toe hulle hierdie luukse landgoed net noord-oos van Pretoria byna twee dekades gelede begin vestig het. En vandag lééf talle gesinne hierdie droom!

Inwoners van Leeuwfontein Estates besit elkeen een hektaar ongerepte natuur – sonder heinings – binne die 175 hektaar elektries-omheinde landgoed met streng toegangsbeheer en ander veiligheidsmaatreëls. Hier geld die beginsel van “veiligheid IN die natuur”.

Waar Leeuwfontein Estates by die invloei van die Edendale-Spruit aan die oostekant van die Roodeplaatdam geleë is, is dit pure Bosveld! Jy sien net hier en daar ‘n dak uitsteek tussen die inheemse bome en natuurlike plantegroei.

Soos jy deur die landgoed ry, staan daar sommer gou ‘n sebra (of ‘n koedoe) voor jou in die pad as jy om ‘n draai kom, of sien jy die springbokke (of blesbokke) op die perde se arena langs die stalle wei, of waggel ‘n likkewaan voor jou oor die pad. Stel jou voor jy daag bietjie laat op vir werk en jou verskoning is: “Skuus, die blouwildebeeste (of rooibokke) het my opgehou” .

By Leeuwfontein Estates maak jy nie ‘n fyntuin nie – die ystervarke (en vlakvarke) gaan dink jy is baie gaaf. Of jy gaan dit baie slim moet doen! Nee, hier is die natuur jou tuin. Vir dieselfde rede is die aanhou van persoonlike troeteldiere beperk en onderhewig aan streng reëls…sodat mens en dier en voël Roodeplaat se landgoed-leefwyse kan geniet.

Hierdie is een van min landgoede waar die aanhou en stal van perde aangemoedig word. Stalle met ‘n arena, sowel as perdryroetes op die landgoed is beskikbaar vir diegene wat perdmal is. Verskeie kilometers se wandelpaaie is ook uitgelê vir ‘n gesonde middag- of vroegoggend stappie of hardloopsessie.

Soos dikwels die geval is by landgoed-leefwyse, bied Leeuwfontein Estate ook gemeenskaplike geriewe vir inwoners aan, waaronder ‘n pragtige en funksionele grasdak-klubhuis op die oewer van die Roodeplaatdam. Hier kan inwoners die swembad, tennisbane, braai-areas, kroeg en private skemerkelk sitkamer geniet. Die saal en industriële kombuis word ook aan inwoners verhuur vir funksies.

Toe Leeuwfontein Estate destyds deur die Benstra ontwikkelaars, Wim Fourie en Chris de Wet, uitgedroom is, het hulle die natuurkenner en Tukkie-dosent, Ben Breedlove, ‘n deeglike habitatstudie van die terrein laat doen. Dit dien steeds as gids vir inwoners om te leer hoe om insekte, voëls en diere na jou huis te lok vir nabye besigtiging.

Omdat Leeuwfontein Estates die natuurliefhebber se droom is, word daar steeds gereeld praatjies aangebied oor verskeie aspekte van die natuurverskynsels wat spesifiek op dié terrein voorkom, soos spinnekoppe, voëls, plante, paddas….of die interessante rooi graniet wat voorheen op die terrein uitgehaal is.

Leeuwfontein Estates word deur ‘n direksie van twaalf eienaars bestuur, met ‘n heeltydse dorpsbestuurder, voorman en administratiewe persoon wat na die dag tot dag sake omsien. Die terrein se dienste is volledig, en ondergronds, en word deeglik in stand gehou.

Indien jy droom oor so ‘n leefwyse en jy graag eiendomme in die pragtige landgoed wil besigtig,

Skakel Rudolph van den Berg  Sel no 0828217129  of epos rudolph@emacplan.co.za   

Emacplan | Website by ADSSA | © 2018