Tegnologie onontbeerlik vir boerdery
- Posted by Rudolph van den Berg in News on Property
- No Comments
-
Dit is geen geheim dat tegnologie vandag ‘n reusegroot rol speel in boerdery nie. Maar in watter mate dit gebeur sal die gemiddelde stadsjapie in sy cappuccino by sy gunsteling koffiewinkel laat verstik.
In Roodeplaat – ‘n plattelandse gemeenskap net noord-oos van Pretoria, wat uit kleinhoewes, sekuriteitslandgoedere en klein plasies bestaan – kry mens ‘n verstommende voorbeeld van hoe effektief tegnologie ingespan kan word om ‘n klein, maar florerende , visbroeiery en hidroponiese plaas te bedryf.
Rikalize Reinecke (18), ‘n matriekleerder aan die toonaangewende Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria, bestuur hierdie plaas al vir ses jaar as’t ware vanaf haar skoolbank. En dit is toeps (selfoontoepassings) wat haar toelaat om dit te doen. Die toep Fishify is juis haar uitvinding en is in samewerking met Belgium Kollege ontwikkel. Hierdie toep, en ander wat gevolg het, verwittig haar wanneer daar ‘n verandering in temperatuur is in die kweekhuise of die water van die vistenks, of wanneer daar ‘n kragonderbreking is, of wat ookal die toeps waarneem in die magdom tegniese data wat dit meet.
Gedurende pouses is daar nie tyd vir speel, of om in ‘n tou te staan by die snoepie, of om kêrels te bespreek nie…. Nee, vir Rikalize is dít die tyd om haar besigheid op die kleinhoewe by Kameelfontein te bestuur deur haar pa en die 22 werkers te bel om asseblief dít te gaan kontroleer of dat te gaan doen.
As ‘n entrepreneurs wunderkind is Rikalize internasionaal bekend in hierdie twee velde, met verskeie goue medaljes en ander toekennings teen die mure van die lesinglokaal op die kleinhoewe as bewys. Hierdie jong skoolmeisie is gewoond daaraan om op Afrika- en wêreldverhoë te sit as deel van paneelbesprekings; selfs as spreker by wetenskapkonferensies.
Maar oral waar sy gaan is Rikalize in beheer van nie alleen haar boerdery-aktiwiteite tuis in Roodeplaat nie, maar ook die modulêre akwaponiese stelsels wat in verskeie Afrikalande opgestel is as deel van haar Feeding Africa platform, wat sy mentor.
Vandag bestuur Rikalize vier besighede. Sy kry dit reg danksy inligtingstegnologie wat dit vir haar moontlik maak om alles vanaf verskeie toeps op haar slimfoon, en die onontbeerlike rekenaarpaneelbord in die kantoor, te beheer.
Intussen word verskeie ander soorte boerdery op klein skaal ook in die Roodeplaat en Kameeldrift areas beoefen te danke aan die omgewing se aard van kleinhoewes en klein plasies, bv kwekerye, hoenders, groente en ander produkte wat in kweekhuise en tonnels verbou word.
Vir al hierdie boerderye word ‘n verskeidenheid soorte tegnologie gebruik. “Omdat inset- en produksiekostes deesdae so hoog is, moet ‘n boer alle insette optimaliseer….en dit doen ons deur tegnologie te gebruik”, sê mnr Henry Combrink, voorsitter van die Cullinan Boere Unie (deel van TLU SA).
Vandag gebruik boere rekenaars, ‘n verskeidenheid van toeps op hul slimfone, en hommeltuie om grond te analiseer, die waterinhoud te meet, die ontwikkeling van saailinge te moniteer, ens sodat die boer ingeligte besluite kan neem oor watter aanvullende voedingstowwe om by te voeg. In sommige gevalle is tonnels en landerye op kleinhoewes en klein plasies in die Roodeplaat-omgewing toegerus met al die nodige hoë-tegnologie toerusting om dit outomaties toe te dien.
Wanneer mens die onderwerp van tegnologie in boerdery begin ondersoek, is bostaande voorbeelde nie naastenby genoeg om al die ongelooflike moontlikhede te ontgin nie. ‘n Stadsjapie staan verstom wanneer hy uitvind in hoe ‘n mate tegnologiese vooruitgang ingespan word om kos vir sy tafel te produseer.