Blog

Advanced
Search

Kameeldrift Oos – ‘n lewendige, ontwikkelende gemeenskap

Soos wat besoekers aan die Kameeldrift Oos-gebied van die N1-snelweg afdraai, word hulle begroet deur ‘n boomryke Bosveld-omgewing van kleinhoewes, klein plasies en landgoedere.  Baie sou hul voortande wou gee, by wyse van spreke, om in hierdie landelike omgewing op die noordoostelike drumpel van die stad Tshwane te kon woon.

Maar inwoners van die Kameeldrift Oos-gebied – sommige van hulle reeds deel van die tweede of derde geslag families wat in hierdie rustige gemeenskap woon – weet die waarheid: dat hierdie Kameeldrift-gebied die afgelope twee dekades reeds gróót groei en ontwikkeling belewe het.

Baie kleinhoewes is al onderverdeel in kleiner eenhede om vir ander ook die plattelandse lewe te laat smaak. Maar dan is daar ook dié ploteienaars wat aangehou het vir die regte tyd, wetende dat ontwikkelaars op ‘n dag die waarde en mooiheid van die Kameeldriftgebied  sou sien, en begin om landgoedere en veiligheidskomplekse te bou.

Soos ons die 2020’s betree, spog Kameeldrift Oos reeds met ‘n aantal luukse, asook sommige bekostigbare ommuurde landgoedere soos Pebble Rock, Sable Hills Waterfront Estate, Roodepark Eco Estate, Leeuwfontein Estate, Riverside Estate, Zambezi Manor, Zambezi Estate, Rocklands Estate en Serengeti. Veiligheid en sekuriteit is vir almal belangrik, en word in wisselende mate aangebied.

Die invloei van mense in Kameeldrift wat deur hierdie onderverdelings en landgoedere meegebring is, het gelei tot ander ontwikkelings wat benodig word waar méér mense woon, bv die moderne Roodeplaat Curro Skool, wat voorsiening maak vir laer- sowel as hoërskoolonderrig. Selfs ‘n hospitaal word in die vooruitsig gestel vir hierdie gebied!

Meer mense in Kameeldrift het ook meer koopkrag gebring, en het meer winkels en besighede genoodsaak. Die inwoners van hierdie voorheen boeregemeenskap het gejuig toe die oprigting van ‘n “regte” winkelsentrum in 2005-2008 plaasvind – die Zambezi Retail Centre op die hoek van die Molotopad en Sefako Makgathoweg. (‘n Gedeelte daarvan staan nou bekend as die China Mall.)

Maar die kleiner winkelsentrums  wat vir dekades die Kameeldrifgemeenskap bedien het, het ook intussen gegroei en ontwikkel om in ‘n groter mate in die behoeftes van ‘n groeiende gemeenskap te kan voorsien. Die Derdepark Winkelsentrum word al vir 25 jaar deur die Van der Watt-familie bedryf, terwyl die Kameeldriftsentrum, met sy ryk geskiedenis, nou met sy 50ste jaar in die hande van Christo Joubert se familie spog. Albei hierdie tipiese klein, onontbeerlike voorstedelike winkelsentrums het groot planne vir ontwikkeling binne afsienbare tyd. Die Roodeplaatsentrum en Leeuwfontein Sentrum is reeds albei die afgelope paar jaar opgradeer na pragtige winsgewende sentrums, wat in hul onderskeie gemeenskappe se onmiddellike behoeftes voorsien.

Méér inwoners het ook beter paaie en meer effektiewe elektrisiteit- en watervoorsiening vereis….daarom het die Kameeldriftgemeenskap verlede jaar weer eens gejuig toe die belangrike verbindingspad voor die Kievitskroon Hotel (Reierweg) verby, uiteindelik geteer is. Ander noodsaaklike infrastruktuur is ook die laaste paar jaar opgradeer om voorsiening te maak vir al die onderverdelings en ontwikkelings wat deesdae in die Kameeldriftgebied plaasvind.

Emacplan | Website by ADSSA | © 2018